MEER AS 4 MILJOEN!!!
  Juig tot eer van God, almal op aarde! Sing tot roem van Sy Naam, gee Hom die eer wat Hom toekom! “Bely voor God: Hoe ontsagwekkend is U werk! U mag is groot, U vyande kruip voor U.
Alle mense moet voor U buig, hulle moet sing tot U eer, hulle moet sing tot eer van U Naam” (Ps. 66:1-4 NV). Deur God se gróót genade het die eerste beskeie uitgawe van Goeie Nuus / Good News gedurende April 1998 die lig gesien. 10 000 eksemplare is maandeliks gratis van huis tot huis in Potchefstroom versprei. In gehoorsaamheid aan God se leiding en met Sy hulp en genade is Klerksdorp, Stilfontein, Hartbeesfontein, Orkney, Parys, Ottosdal, Tosca, Ventersdorp, die Molopo-omgewing en Delareyville die afgelope 11 jaar ook bygevoeg en het die oplaag verhoog tot 40 000.
Met hierdie uitgawe bereik ons ’n mooi hoogtepunt deurdat ons nou reeds 4 008 900 koerante gratis versprei het. Ons harte loop oor van dankbaarheid teenoor ons kosbare Hemelse Vader wat ons die afgelope 11 jaar oorskadu en oordek het met Sy liefde, ondersteuning, voorsiening en instaatstellende krag! Ons is slegs saaiers van God se Woord wat bid dat die saad op goeie grond sal val sodat die oes menigvuldig sal wees en dat God al die eer, dank en aanbidding sal ontvang.
Ons juig oor die talle getuienisse wat ons ontvang het van mense wat die Here Jesus as Saligmaker leer ken het, mense wat hul lewens opnuut aan die Here oorgegee en toegewy het ná die lees van artikels en getuienisse in die Goeie Nuus, mense wie se huweliksprobleme asook ander probleme opgelos is, verhoudinge wat herstel is, kwade gevoelens wat uit die weg geruim is, selfmoordpogings wat gestaak is, mense wie se lewens radikaal aangeraak en verander is! Daar was ook baie oproepe om hulp waaraan gehoor gegee is en talle lesers het skenkings gegee aan Bedieninge waar die nood hoog was en honger- en noodlydendes gehelp is via die koerant.
Ons hoor ook van mense en kinders wat Goeie Nuus as bron gebruik by selle, wanneer hulle miskien ’n praatjie moet lewer, ’n opening moet waarneem, ens. Dit vul ons met groot vreugde dat hierdie koerant ’n positiewe invloed op ons samelewing kan uitoefen en ons prys die Here dat Sy Naam verheerlik word!
Hier volg nog ’n aangrypende, resente getuienis van die invloed van Goeie Nuus / Good News:

DIE GOEIE NUUS
’N “GOUE SEKEL”
Dr. Venter skryf vanuit die VSA:
“Toe sê Hy [Jesus] vir Sy dissipels: Die oes is wel groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here van die oes, dat Hy arbeiders in Sy oes mag uitstuur” (Matt. 9:37-38).
Ek het ’n paar maande gelede na die VSA verhuis nadat ek ’n baie goeie werksaanbod gekry het. In die begin was ek maar vreemd, en ek het in die hartjie van ’n yswit winter hier aangeland. Ek moes stadigaan my nuwe omstandighede leer ken, asook waar en wanneer ek bepaalde benodigdhede kon verkry. Ek moes ook verblyf vind. Genadiglik kon ek ’n ruim woonstel naby my werkplek bekom.
Op ’n dag kom ek sukkel-sukkel in die koue met ’n klomp pakkies by my woonstel aan. My buurvrou sien my, en bied aan om my volgende keer ’n geleentheid na die kruidenierswinkel te gee (wanneer sy self weer sou gaan). Met hierdie enkele daad van medelye begin ’n wonderlike vriendskap!
Een middag gesels ons oor ons onderskeie agtergronde, en ek leen vir haar ’n paar kopieë van die Goeie Nuus wat ek saam-gebring het VSA toe. Ek groet, en gaan voort met my dagtaak.
Later daardie aand kom sy na my woonstel en maak haar hart oop: sy gesels oor verskeie persoonlike aangeleenthede. Sy vertel my dat ’n bepaalde artikel haar diep getref het, en dat die woorde “net vir haar” bedoel was. Hierdie artikel het in die uitgawe van Februarie 2009 verskyn (“Enter Into the Open Door: Jesus!”). Daarin was ’n verhaal van ’n jong dame wat ’n oortreding begaan het. In die hof het sy skuld erken, en die regter, wat ook haar pa was, het die vonnis uitgespreek en die boete self betaal. Hierdeur het hy haar skuld- en onwaardigheids-gevoelens op ’n wettige wyse weggeneem, en so versoening bewerk. In ’n veel groter mate het Jesus se kruisdood en opstanding ons deur geloof geregverdig en vergifnis aangebied. Met Jesus as ons Voorbeeld moet ons nou mekaar se wandade en foute vergewe (en baie belangrik, ook onsself), sodat ons Sy genesing en vrede deelagtig kan word.
My buurvrou deel my mee dat sy diep verwerping en emosionele pyn in haar gemeente ervaar het, en dat sy vir die afgelope paar jare nie meer ’n kerk besoek nie. Sy sê egter dat sy glo dat die Here my op haar pad gestuur het, want sy wou al “terugkom” na Hom en Sy kinders, maar was nie seker hoe om te werk te gaan nie. Sy verlang na orde, vrede en vervulling in haar lewe, en haar huidige omstandighede was ook nie na wense nie.
Na ’n lang gesprek spreek ons af om op ’n gereelde grondslag bymekaar te kom en vir mekaar se behoeftes in te tree, asook om ’n kort Bybelstudie te doen. Hierdeur is ons albei se lewens baie positief aangeraak, en die Here se ryke seën rus op ons “samekomste”! Sy getuig reeds van herstelde verhoudinge en omstandighede wat ten goede verander het.
Ek is opnuut getref deur die Here se vermoë om sake in plek te laat val sodat Sy wil sal geskied, en ook deur die oneindige bemoeienis wat Hy met die individu sal maak om Sy liefde te betoon! (Ek dink byvoorbeeld aan die feit dat ek al die pad van Suid-Afrika moes kom na hierdie bepaalde wooneenhede, juis om haar te ontmoet. Dit herinner my aan die vrou by die put, en die feit dat Jesus deur Samaria “moes” gaan om haar lewe aan te raak - Joh. 4:4 OV).
Die Goeie Nuus was die instrument wat Hy op ’n nie-konfronterende, oortuigende manier kon gebruik om Sy kudde te vergader. Mag Sy seën op hierdie kosbare Bediening rus, en mag dit steeds ’n kanaal van Sy reddende genade bly! Mag die Goeie Nuus ook ’n instrument in u hand wees waarmee u God se Koninkryk kan help uitbou en uitbrei! Ek bid laastens ook dat die Here mense sal opwek om, soos Aäron en Hur van ouds, hierdie bedienaars van die Woord se hande omhoog te hou met gebede en volgehoue ondersteuning. Al die eer aan ons komende Koning, die Here van die oes!

Wat ’n wonderlike ingryping van God! So is daar nog talle mense wat bereik en gehelp moet word. Tog is tyd, arbeiders en hulpbronne min. Ons glo dat u ook ervaar dat dit NET DIE HERE IS wat ons staande kan hou in hierdie donkerwordende wêreld waar ekonomiese en morele krisisse, misdaad, en die Satan se vernietigingswerk, hoogty vier. Daarom is dit gebiedend noodsaaklik dat SY WOORD meer en meer versprei word na soveel mense as moontlik! Praat die Here nie dalk NOU, op hierdie oomblik met u om deel te word van hierdie Bediening (Goeie Nuus / Good News) om God se Koninkryk op ’n praktiese manier te bevorder en mense se lewens aan te raak nie? Indien wel, sal dit wonderlik wees as u daagliks in gebed vir ons sal intree, en ook bereid sal wees om maandeliks ’n geringe bedrag t.o.v. instandhouding en uitbreiding te bewillig.
BAIE DANKIE DAT U GEHOORSAAM IS AAN GOD SE STEM. ONS WEET DAT HY U RYKLIK SAL SEËN VIR U BEREIDWILLIGHEID OM MAANDELIKS ’N GERINGE BEDRAG VAN R30, R40, R50 of R100 TE BELÊ OM DIE EVANGELIE VERDER TE VERSPREI! ONS ONTVANG MET DANK DEBIETORDERVORM (LANGSAAN) PER KERENDE POS. DIE HERE SEËN U RYKLIK!

Indeks     Index