VERTRAAG JOU PAS
  Maar ék vertrou op U, o HERE! Ek sê: U is my God. My tye is in U Hand… (Ps. 31:15 - 16a).

Daar is mense wat só besig is dat hulle nie tyd het om te "lewe" nie. Elke minuut van elke dag is volgeprop en selfs die gedagte om hulle pas te vertraag, word deur hulle verafsku. Hierdie mense bereik nie noodwendig méér as mense wat geleer het om teen 'n stadiger pas en ewewigtig te lewe nie.
Dis eintlik 'n kwessie van waardebepaling. Dit wat sommige mense as tydverkwisting beskou, word deur ander met dankbaarheid as 'n tyd van rus en verkwikking beskou.
Daar is mense wat met oortuiging glo dat hulle nie tyd het om 'n sinvolle gebedslewe te ontwikkel nie. Hulle is só besig om te werk - selfs om vir God te werk - dat hulle dit as onbelangrik beskou om rustig tyd in Sy heilige Teenwoordigheid deur te bring.

Net 'n geestelik onvolwasse persoon sal tyd wat in gebed, Skrifstudie en bepeinsing by God spandeer word, afskryf as verlore of verkwiste tyd. As jy in stilte by God jou lewe beplan, kan die wêreld maar voortspoed, maar jy sal meer in ewigheidswaarde bereik as ander wat hulself angsvol voortdryf van minuut tot minuut.
Moet nooit die fout maak om die tyd wat jy by God deurbring as verkwiste tyd te beskou nie. Om in Sy Teenwoordigheid stil te wees, kan die konstruktiefste en vrugbaarste oomblikke van jou lewe wees!

Gebed: Heilige Gees van God, maak my gedurig daarvan bewus dat die kosbaarste oomblikke van my lewe dié is wat ek in U Teenwoordigheid deurbring.

[Uit: Elke Môre Nuut, Solly Ozrovech, CUM, 1999].

Al die probleme van die lewe oorval ons omdat ons weier om elke dag vir 'n wyle in ons kamer stil te word. - Blaise Pascal

Indeks     Index