JESUS MAAK JOU KNOPE LOS | |
![]() |
|
  |
Vir die meeste van ons was dit moeilik om te leer hoe om ons skoenveters vas te maak. Om tandepasta op die tandeborsel te sit, was moeilik genoeg, maar die vasmaak van skoene deur twee toutjies saam te bind? Niks maklik daaraan nie. Wie het dit in elk geval nodig? Dra insteekskoene. Loop kaalvoet. Wie het hoeka skoene uitgedink? En die knieë het nie gehelp nie. Hulle was altyd in die pad. Jy moet oor hulle leun, hulle uit die pad uitstoot - 'n mens kan nie konsentreer nie! En o, die advies! Elkeen het 'n ander benadering. "Maak 'n boompie met die een toutjie en laat die eekhorinkie omhardloop tot in die opening." "Maak 'n haasoor en bind dit dan met 'n strik vas." Pa het gesê: "Doen dit vinnig." Jou oom het gesê jy moet jou tyd neem. Kan mense dan nie saamstem nie? Net oor een ding is hulle dit eens. Jy moet weet hoe! Om jou skoene te leer vasmaak, is 'n deurgangsrite. Net daar saam met graad een en die eerste fiets, is die eerste skoenvasmaak. Maar o, wat 'n aaklige proses. Nes jy dink jy het die lussie gemaak en die boompie omsirkel… kry jy 'n haasoor in elke hand beet, gee hulle 'n oorwinnaarspluk, en siedaar - 'n knoop! En sonder dat jy dit besef, word jy so aan die werklikheid bekendgestel. My vriend Roy het altyd elke oggend vir 'n paar minute op 'n bankie in die park gaan sit. Hy het daarvan gehou om die kinders by die bushalte te sien bymekaarkom en speel. Eendag sien hy hoe 'n klein outjie, seker so vyf of ses jaar oud, sukkel om op die bus te kom. Terwyl die ander besig was om op te klim, het hy afgebuk en naarstiglik probeer om 'n geknoopte veter los te maak. Hy het al hoe meer desperaat geraak, met oë wat angstig van die skoen na die bus en terug dartel. Skielik was dit te laat. Die deur het toegegaan... Die seuntjie het op sy hurke gaan sit en diep gesug. Dit is toe dat hy vir Roy sien. Met oë vol trane het hy na die man op die bank gekyk en gevra: "Maak jy knope los?" Jesus hou van daardie vraag! Die lewe raak soms vol knope. Mense maak droog. Jy ontgroei nooit die behoefte om op te kyk en "Help!" te sê nie! Jesus het 'n manier om by sulke geleenthede op te daag. Petrus se leë boot. Nikodemus se leë hart. Matteus se saak met sy vriende. 'n Vrou met 'n gesondheidsprobleem. Kyk wie daag op! JESUS, die VERLOSSER van langsaan! "Maak U knope los?" "JA, beslis!" sê Jesus. [VERLOSSER van Langsaan, Max Lucado, Struik Christelike Boeke, 2003]. |