KYK NA DIE STERRE
 
"Dit is Hy (Christus) wat elke belofte van God waar maak, en omdat ons aan Hom behoort, kan ons op elke belofte van God 'amen' sê om God te eer" (2 Korintiërs 1:20 DLB).
DIE KRISSISE van die lewe kan soos 'n storm oor 'n mens se lewe trek en 'n streep van ver-woesting agterlaat. Dinge wat vroeër vastigheid en beskerming gegee het, lê dan in stukke en 'n mens is net bewus van die pynlike verlies van iets wat nie weer herstel kan word nie.
Dit kan die dood van 'n dierbare wees, die ramp van 'n egskeiding, die verlies van 'n mens se werk, 'n ongeneeslike siekte of ook die tragiese gevol-ge van 'n mens se eie sonde.
So iets kan 'n mens losskeur van alles wat jou vantevore sekuriteit en betekenis in die lewe gegee het. So 'n storm oor 'n mens se lewe kan so verwoestend wees dat jy begin wonder of jy ooit weer op jou voete sal kom.
Maar tog het kinders van die Here deur die eeue heen sulke storms deurgemaak sonder om bitter of verhard te word. Hoe het hulle dit reggekry? Deur hulle lewe weer in te stel op die beloftes in die Woord van die Here.
Twee prospekteerders is een middag in 'n onbewoonde, bergagtige deel van die VSA deur 'n verskriklike storm in 'n grot vasgekeer.
Toe die storm verby was, kon hulle weer uitkruip, maar toe was alles anders. Bome was stukkend geskeur en omgewaai en al die tekens wat hulle aangebring het om hulle pad aan te dui, was weg.
Dit was nou onmoontlik om hulle pad terug te kry. Maar toe sê die een vir die ander: "Kom ons wag tot dit donker word, dan kan ons na die sterre kyk en ons rigting kry. Die sterre verander mos nie."
Die Skrif sê 'n gelowige se lewe "word veilig bewaar by Christus en by God" (Kolossense 3:3).
Onthou, Christus het jou lief; Hy is in beheer en Hy is ook naby jou. Sy beloftes verander nooit. Al lyk dit vir jou of jou lewe deur-mekaar is, moenie vaskyk teen verhoudings wat verbreek kan word of sekuriteit wat kan verdwyn nie. Kyk liewer na die sterre van God se beloftes wat nooit hulle waarde kan verloor nie, en begin weer voor saam met Hom. So lank die sterre skyn, kan die lewe nooit hopeloos wees nie!
(Dennis J. de Haan)

Indeks     Index