JESUS SE NOMMER 1 | |
  |
Ons lees in Matteus 14 dat Jesus in ‘n skuit vertrek het na ‘n afgeleë plek "om alleen te wees" (vs. 13). Maar die skare vind dit uit en toe Jesus uit die skuit klim, was daar reeds ‘n massa mense. Dan staan daar: "Hy het ‘n diep deernis vir hulle gevoel en hulle siekes gesond gemaak" (vs. 14). Teen laatmiddag wil die dissipels die mense wegstuur sodat hulle kan gaan kos koop. Jesus organi-seer egter dat die mense op die grond gaan sit en daarna vind die wonderwerk van die vermeerdering van die brode en vissies plaas. Jesus kry dus steeds nie geleentheid om alleen te wees nie. Hy het regtig probeer - selfs na ‘n stil, afgeleë plek gegaan, maar sonder sukses. Sy dag was net te bedrywig. En nou doen Jesus iets buitengewoon: "Dadelik hierna het Jesus Sy dissipels gedwing om weer in die skuit te klim en na die oorkant van die see te vaar terwyl Hy die mense intussen huis toe stuur. Daarna het Hy teen die berg uitgeklim om eenkant te gaan bid. Laataand was Hy alleen daar" (vs. 22, 23). Dit val ‘n mens op dat Jesus Sy dissipels ‘gedwing’ het om in die skuit te klim. ‘n Mens kan aflei dat hulle nie sommer dadelik wou nie. Dalk was hulle so gaaf om aan te bied dat hulle saam met Jesus die mense eers sal afsien. Jesus wil niks daarvan weet nie. Hy sal Self die mense huis toe stuur. En dán word dit duidelik waarom Hy so vreemd optree. Hy wil so gou as moontlik gaan bid. Hy wil graag alleen wees. Sy stiltetyd is vroeg-oggend versteur deur die mense en nou wil Hy die verlore tyd "opmaak". Dit is vir Hom prioriteit nommer 1. En vir jou? In ons gejaagde lewens sal ‘n mens soms streng moet wees om alleen te wees. In ‘n halsoorkop, polsende, "rat race"-lewe moet ‘n mens soms halt roep en gedissi-plineerd wees om alleen te wees - en om te bid. Jy moenie skaam wees om vir jou huismense te sê: "Ek gaan nou my stiltetyd hou. Ek wil nie gepla word vir die vol-gende 30 minute nie." Dit is ook goed dat jou man, jou vrou, vriend of vriendin weet jy soek ‘n stiltetyd sodat hulle dit kan eerbiedig. Moenie probeer om net so nou en dan ‘n gebedjie "in te pas" nie. Of is ons maar skaam om stiltetyd te hou? Soms moet ons maar ook die kinders ‘dwing’ om buite te gaan speel, die TV af te sit of die radio in hulle eie kamer te gaan luister sodat ons alleen kan wees om te lees en te bid. Ons leer ons studente die volgende elemente in gebed: Lof, vergifnis, dank, voorbidding. By voorbidding vra ons hulle om te bid vir hul eie behoeftes en dié van hulle familie; vir die Kerk (Liggaam van Christus) en sy leiers; vir almal in gesagsposisies; vir swakkes, hulpeloses, eensames, siekes, onderdruktes; vir die jeug en kinders; vir plaaslike en wêreldsending. Probeer dit gerus - dan word jou gebed meer as net ‘n inkopielys. Jesus kon ‘n "lekker" biduurtjie gereël het saam met Sy dissipels. Hy kon die "kairos"-moment aangegryp het en ‘n lesing vir hulle gegee het na die wonder-werk van die vermeerdering van die brode en vissies. Maar Hy doen dit nie. Hy klim op ‘n berg om eenkant alleen te gaan bid. Ek vra gister my studente hoekom bid hulle so min? (Navorsing by ons studente het getoon dat hulle gemiddeld 3 minute per dag aan direkte privaatgebede bestee). Hoe lank bid jy elke dag? Hulle verskoning: "Ons is in die aande te moeg na die klasse." Dit maak vir my sin, maar blykbaar nie vir Jesus nie. Na ‘n baie lang, vermoeiende dag gaan Hy nie rus nie - HY GAAN BID! En luister ‘n bietjie watter wonderlike dinge gebeur net na die gebed! Jesus is so besiel en met nuwe krag aangedoen na Sy alleentyd die nag op die berg dat Hy net voor dagbreek sommer op die see na Sy dissipels aangeloop kom! Hy nooi sommer vir Petrus ook om dit te doen en hy vaar nie te sleg nie. Die mense in die skuit het Jesus daarna aanbid en uitge-roep: "U is werklik die Seun van God!" Nadat Hy en die dissipels die see oorgesteek het, maak Hy wéér mense gesond. Ja, almal wat maar net aan Sy kleed geraak het, het gesond geword (vs. 36). IS JOU STILTETYD VIR JOU PRIORITEIT NOMMER 1? Ons het vanmôre op ons daaglikse wandeling bely dat ons strenger is om alleen gelaat te word met ons slaaptyd as met ons stiltetyd! Ons sal besig wees met stiltetyd en gebed en dan opspring om die telefoon of selfoon te beantwoord of die deur oop te maak vir iemand wat klop. Met ons middagslapie pas ons strenger beheer toe - en dit, my broeders en susters, behoort nie so te wees nie! Kom ons onthou Jesus as ons Voorbeeld. En as dit moet - ‘dwing’ mense om jou alleen te laat. Ek bid dat jy jou stiltetyd weer prioriteit nommer 1 gaan maak en ook so besiel en opgekikker word sodat jy figuurlik op die water sal loop vandag en genesend sal inwerk in ander mense se lewens onder die diepe besef: JESUS IS WERKLIK DIE SEUN VAN GOD! - Kruger Du Preez (074 190 5966). |