JY KAN! EK KAN!
  Ons lees in Esegiël 22:25-29 die volgende ontstellende gedeelte: "Die regeerders in die land sweer saam en is soos brullende leeus op vangste uit. Hulle vreet mense op en vat die rykdom en kosbaarhede vir hulleself, hulle maak baie vrouens in die land weduwees.
Die priesters in die land doen My wet geweld aan en hulle ontwy wat aan My gewy is. Hulle maak nie onderskeid tussen wat gewyd en wat nie gewyd is nie, en hulle ken nie die onderskeid tussen rein en onrein nie. Vir My sabbatte gee hulle niks om nie. So word Ek tussen hulle oneer aangedoen.
Die amptenare in die land is soos verskeurende wolwe. Hulle moor, hulle laat mense doodgaan, hulle maak oneerlike wins.
Die profete in die land pleister alles toe: hulle sien gesigte wat nie daar is nie, verkondig leuens as waarsêery en sê: ‘So sê die Here my God’, terwyl Ek niks gesê het nie.
Die burgers van die land verdruk en beroof mense. Hulle buit armes en mense in nood uit en hulle verdruk die vreemdeling asof daar geen reg bestaan nie."
Esegiël skryf hierdie woorde net na 571 v.C. in ‘n tyd van onsekerheid, verval en gebrek aan leierskap. Klink dit nie vir u asof hierdie woorde van Esegiël nog steeds vandag op ons land en baie van sy mense van toepassing gemaak kan word nie?
KAN JY en EK iets doen aan die misdaad, korrupsie, losbandigheid en goddeloosheid wat in ons prag-tige land hoogty vier? JA, ONS KAN!
God spreek verder en sê: "Ek het iemand tussen hulle gesoek wat ‘n muur sou bou en vir die stad [land] in die bres sou tree dat dit nie vernietig word nie, maar Ek het niemand gekry nie. Daarom laat Ek My toorn oor hulle losbreek en vernietig Ek hulle met die vuur van My gramskap. Ek laat hulle kry wat hulle verdien, sê die Here my God" (Esegiël 22:30-31 NV).
Kom JY en EK word die "iemand" wat God soek om vir ons land in te tree! JY en ek kan God se kragtige Hand in beweging bring deur ons smeekgebede tot Hom. Ons kan ons beroep op ‘n almag-tige, regverdige Regter om reg en geregtigheid in ons land te laat geskied. Kom elkeen van ons verootmoedig ons voor die Here van hemel en aarde en staan in die bres (gaping) vir ons land en sy mense.
Kom ons benader dit prakties:
1. Voeg gedurende jou persoonlike, daaglikse stiltetyd nog so 15-20 minute by waarin jy spesifiek vir ons land en sy mense intree.
2. Bepaal ook ‘n sekere tyd wanneer jy en jou hele gesin saam vir ons land intree.
3. By bidure, Bybelstudie of selgroepe kan ook weekliks spesifiek tyd afgestaan word vir intrede vir ons land.
4. Selfs voor of na eredienste kan die hele gemeente vir ‘n kort tydjie tot God in gebed nader en voorbidding vir ons land en sy mense doen.
5. Jy en ek kan selfs ‘n dag neem en vas en bid vir ons land.
Kom ons word daadwerklike voorbidders vir ons land en sy mense! Dan sal waar word wat Paulus in 1 Timoteus 2:1-2 skryf: "Ek dring daarop aan dat daar in die eerste plek met smeking, voorbidding en danksegging gebid moet word vir alle mense, vir dié wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen, sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei in volkome toewyding aan God en in alle eerbaarheid." Dán sal ons ook God se reddende krag en wondergenade in ons land aan-skou!
- Huegene Venter


Indeks     Index