SY LEWENSRESEP
 

Iemand klop saggies en versigtig aan die agterdeur van die kombuis. Verbaas kyk ek en die Mooiste Mooi (my vroutjie) vir mekaar, want dit is heel ongehoord dat iemand so laat op ‘n Saterdagmiddag sal aanklop. Verwese staan die bruin vroutjie daar met oë, wat nes haar se skouers, grondlangs kyk.
"Middag jong," groet ek vriendelik. Ek wil-wil haar koggel, maar hou my in want haar se oë bly verslae grondlangs kyk. "Is Mevrou dan hier Pastoor?" vra sy so half binnensmonds en skielik besef ek dat stilbly nou die regte ding is. ‘n Swaar saak het loop nesskop in haar se binneste-binne en druk haar se skouers en hart vas teen die grond.
"Mevrou, daar is niks om te eet by die huis nie. Nie broodmeel nie, nie oorskiet-kossies nie, niks nie Mevrou, niks nie. Ek het nou maar die vrymoedigheid gevat en kom vra, want die ander sal my tog net verjaag. Is hier nie dalk ietsie kleins vir my en my Felicity se binnegoed nie?" hoor ek haar koeskop sê.
Hierdie woorde slaan die Mooiste Mooi diep in die hart en sy laat haar se kop in stilte sak en draai terug die kombuis in. Groot traandruppels vorm diep in haar se sagte, groen oë terwyl sy saggies begin snik. Ek trek haar nader onder my se blad in en saam-saam staan ons daar terwyl smeektrane breë spore op onse gesigte los. Verslae tot in onse gebeente staan ons styf teen mekaar, want ‘n aaklige realiteit martel ons genadeloos daar waar dit saak maak. Die realiteit van slegs twee blikkies "Bully Beef" op ons spensrak en verder niks, absoluut niks. Die werklikheid van ‘n naweek met net ‘n blikkie vleis per dag om te eet en verder dan niks. Daar is ys in die vrieskas en in die yskas staan bottels en bottels koue water, maar op die kosrak pryk slegs twee rooi blikkies "Bully Beef" eensaam en verlate. Ons enigste kos totdat ons weer die komende Maandag hopelik kan kry of aankoop.
As gestuurdes wil ons so graag hierdie sukkelaar help, maar ons het nie eens genoeg vir onsself nie. "Here, hoe kan ons hierdie vergete vrou en haar kind dan help as ons nie eens genoeg het vir onsself nie?" pleit ek saggies. "Dis mos nie regverdig nie Here, U is dan ‘n God van oorvloed, en U het gesê dat ons kosskottels nooit leeg sal wees nie," wil-wil ek Hom begin afdreig.
Met die Mooiste Mooi steeds onder my se blad steek ek hoopvol my hand uit na die yskas. Versigtig word die deur oopge-maak en ek hoop om meer as net bottels koue water te sien. Ek hoop op ‘n wonderwerk van ‘n vrieskas oorlopens toe vol met bevrore vleispakkies en ‘n yskas wat kreun in oorvloed. Teleurstelling oorspoel my soos 'n vloedgolf, want steeds is die yskas leeg. Tog bly hoop bestaan, want Hy het mos eenmaal duidelik gesê dat ons kosskottel en water-bekers nooit leeg sal wees nie.
En so onthou die Mooiste Mooi weer stukkies van Sy Lewens-resep:
"Meer gee en minder vra,
.........
Ken ‘n boom aan sy vrugte en nie sy blare, want dis My se binne-kant-snare."
Woordeloos kyk ons vir mekaar. Dan draai die Mooiste Mooi haarself onder my se blad uit. Sy gaan staan voor die amperse leë kosrak en vat ‘n blikkie vleis in elke hand vas.
"Here, U het mos gesê," sê sy terwyl sy doelgerig kombuisdeur toe stap om vir die eensame ons laaste stukkie kossigheid te gaan gee.
Vroeg Sondagoggend is daar weer ‘n klop aan die kombuisdeur. Dié keer egter ‘n klop vol selfver-sekerdheid, ‘n klop wat dadelik aandag eis. Verbaas maak ek die deur oop en kyk die groot Kalahari-boer verras in die oog. Ek wou nog groet toe hy verskoning vra vir sy haastigheid terwyl hy die oorvol slagskottel met skaapvleis in my se hande druk, omdraai en wegstap. Stil, verstom staan ek daar terwyl hy kop omhoog, al fluitende, om die hoek van die huis wegraak.
Dan onthou ek wéér Sy Lewens-resep gefluister gistermiddag voor ons leë kosrak:
"Meer dank en minder kla, meer gee en minder vra
Meer doen en minder praat, meer liefde en minder kwaad
Meer vreugde en minder vrees, meer musiek wat spanning genees
Meer blomme in die lewensuur as om helderkleurige ruikers na die graf te stuur
Ken ‘n boom aan sy vrugte en nie sy blare, want, dis My se binnekant-snare."
- Die Kalahari Cronjé’s (Landlyn 054 551 1000).

Indeks     Index