GOD KEN JOU STEM
 
Navorsing het aan die lig gebring hoe 'n ma-rob haar kleintjie vind na weke-lange soektogte na kos in die see. Wanneer haar kleintjie gebore word, sal sy haar fyn instem om haar baba se stem te memoriseer. Sodoende sal sy in staat wees om hom of haar te vind by haar terugkeer. Volgens The Vancouver Sun van Kanada "leer kleintjies binne net twee dae ná hulle geboorte om hulle ma se stem uit te ken en ma's leer vinnig om hulle baba se geroep te identifiseer."

'n Studie wat op Amsterdam-eiland in die Indiese Oseaan gedoen is, toon dat "die ma en baba mekaar binne net sewe minute weer kan vind wanneer sy vir die eerste keer van die see af terugkeer," sê die Sun. "'n Ma sal net haar eie kleintjie voer en kan baie aggressief teenoor ander kleintjies wees," sê dr. Isabelle Charrier, wat die studie gedoen het, "en daarom is dit baie belang-rik vir die kleintjie om sy ma te herken."

Wanneer die ma terugkeer uit die see na haar soektog na kos, sal sy om die lawaaierige kolonie van etlike honderde robbe beweeg totdat sy haar kleintjie se geroep hoor - want sy ken sy stem! En hy ken háár stem! Dan sal sy tussen die massas na hom toe gaan!

Wat 'n geweldige les leer ons hier uit die natuur! Jesus het eenmaal gesê: "Word twee mossies nie vir 'n stuiwer verkoop nie? En nie een van hulle sal op die aarde val sonder julle Vader nie. En van julle is selfs die hare van die hoof almal getel. Wees dan nie bevrees nie: julle is meer werd as baie mossies" (Matt. 10:29-31).

Jesus het ook gesê: "Ek is die goeie herder, en Ek ken my eie en word deur my eie geken" (Joh. 10:14).

Wanneer ons in nood is en dit voel asof niemand ons kan help nie, voel ons so eensaam... Ons wil na God toe gaan, maar dikwels voel dit ook Hy het my verlaat! Ek voel so ver van Hom af! Ek hoor nie meer Sy stem nie! Ek voel van God en mens verlate!

Dawid roep uit: "Verberg u aan-gesig nie vir my nie, wys u kneg nie af in toorn nie: U was my hulp! Verstoot en verlaat my nie, o God van my heil!" (Ps. 27:9). Dawid het dit uitgeroep, en ook Jesus op die kruis: "My God, my God, waarom het U my verlaat, ver van my hulp, van die woorde van my gebrul?" (Ps. 22:2).

Jy sê dalk: "Ja, dit is presies hoe ek ook voel!" Dawid het so gevoel, maar Jesus het daardie "leeg-heid" - daardie gevoel van "God-verlatenheid" - op die kruis gedra omdat Hy ons sondeskuld ten volle op die kruis gedra het. Daarom het Hy óns verlos van "Godverlatenheid".

Toe Josua vir Moses moes opvolg, sê God vir hom: "Nie-mand sal voor jou standhou al die dae van jou lewe nie; soos Ek met Moses gewees het, sal Ek met jou wees; Ek sal jou nie begewe en jou nie verlaat nie" (Josua 1:5). Dit word ook vir ons herhaal in Hebreërs 13:5 - "Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie."

En nou sê Jesus: "Ek ken My eie!" En God die Vader sê in werklik-heid vir ons: "Ek ken jou stem! Ek hoor jou geroep na My!" Dit is soos die klein rob wat sy mammie roep, en sy hoor! En sy antwoord!

Al voel jy ver van God verwyder, Hy is nie ver van jou af nie! Waag dit om Hom aan te roep in die Naam van Jesus! Hy sal jou stem hoor en Hy sal verseker antwoord, want Hy is ver groter en het ver meer lief as die klein rob se mammie!

Hy sê in Ps. 50:15 - "...roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp, en jy moet My eer." Waag dit vandag nog om Hom aan te roep. Hy ken jou stem!

© Dr. J J Venter


Indeks     Index