MOENIE MOED VERLOOR NIE | |
![]() |
|
  |
Die wintersdae in 2014 is kort en koud en my energie laat my soms op die mees onverwagte tye in die steek. Aan die begin van Julie word ek siek en soos wat almal maar maak, dokter ek myself eers met griepmedisyne wat ek sommer oor die toonbank gekoop het en klim dankbaar in die bed. My energieloosheid frustreer my steeds mateloos, maar ek skryf dit toe aan die griepsimptome en slaap soveel as wat ek kan. 'n Dag of wat later dwing hoë koors my tog maar om op te staan en 'n afspraak met die dokter te maak. Ek sê terloops aan die einde van die ondersoek dat ek deesdae so gou moeg raak en die dokter besluit om my vir bloedtoetse te stuur. Ek hoef nie lank vir die uitslae te wag nie en die dokter reël dat ek as gevolg van my uiters lae hemoglobientelling dadelik in die hospitaal opgeneem word en vir byna 'n week word daar omvat-tende toetse deur 'n internis gedoen en lê en wag ek in spanning op die uitslae. Uiteindelik kom die uitslag. Daar is 'n obstruksie in my kolon wat verwyder moet word en op 6 Augustus 2014 word ek in die teater gestoot. Direk na die operasie word die gewas, asook 12 kliere volgens protokol vir ontleding weggestuur. Gr. 1-kanker word gediagnoseer en my wêreldjie kantel, maar sake lyk darem onder omstandighede nie te sleg nie, aangesien net een van die kliere aangetas was en die chirurg baie tevrede was met die verloop van die operasie. Ek herstel relatief gou en maak na 6 weke 'n afspraak met 'n onkoloog vir verdere behan-deling. Twaalf chemoterapie-sessies word in my geval voor-gestel en ek word deel van 'n omgewing waar pasiënte met baie deernis en met groot kundigheid hanteer word. Elke 2 weke vir 6 maande lank kry ek vir 3 ure chemo by die kliniek en word dan huis toe gestuur met 'n toestelletjie wat soos 'n rugby-balletjie lyk waardeur ek vir 'n verdere 48 uur chemo kry. My man en kinders, my moeder, familie, vriende en die gemeente vorm 'n groot vangnet en dra maaltye, lekkernye en opbouende leesstof aan. Daar is altyd iemand wat gou inloer - my man het eendag ewe droog opgemerk: "Besef jy dat ek nou weet hoe al jou vriendinne hulle tee drink?" Om positief te bly, plak ek met my man en 'n vriendin se hulp, 'n groot boom met baie takke (gemaak van 'vinyl art') teen ons woonkamer se muur. Na elke chemo-sessie kan ek nie wag om 'n wit skoenlapper op een van die takke te plak nie. So tel ek die 12 sessies een vir een met groot geloof af. Die boom simboliseer vir my lewe en die skoenlappers iets nuut wat uit 'n knus kokon loswoel en hoog vlieg. Die Here is goed vir my en ek glo dat alles reg gaan uitwerk! Na afloop van die chemoterapie word ek weer vir omvattende toetse gestuur. Chaos! Ek praat met die Here, probeer sin maak van alles, maar hierdie keer stort my wêreld in duie! Hoe kan dit wees? Ek was so seker dat hierdie toetse bloot roetine sou wees! Terwyl ek chemo gekry het, was daar uitsaaiings na my lewer! Sewe tumors. Graad 4-kanker! 'Terminaal' en 'lae lewensver-wagting' (6 - 12 maande) word skielik deel van my woordeskat. 'n Draaikolk van emosies dreig om my te verswelg! Die onkoloog stel 'n ander chemo-middel voor... peperduur met baie onaangename newe-effekte. Daar moet spesiale goedkeuring by die mediese fonds gekry word. Teen alle verwagting in word die groen lig wel vir hierdie duur behan-deling gegee. Die datum vir die eerste toediening word vasgestel, maar skielik twyfel ek of dit die roete is wat ek moet volg. Ons win nog opinies in en ondersoek meer natuurlike / alternatiewe behan-delings. Hoe meer inligting ons kry, hoe meer deurmekaar raak ons. Eers op die vooraand van die eerste behandeling sê ek vir my man dat ek dit tog maar gaan probeer. Oor die newe-effekte van die nuwe middel gaan ek nie uitbrei nie - fisies en emosioneel was ek afgetakel. Na 6 behandelings word ek vir 'n lewersonar gestuur. Daar is geen noemenswaardige verkleining van die tumors nie! Ek staak dadelik die behandeling en vir die eerste keer begin my en my man se gesprekke noodge-dwonge 'n ander wending neem. Hierdie eerlike gesprekke bring tot 'n mate verligting en op my aandrang begin ons om ons sake in orde te kry. Dood word vir my 'n realiteit... Met my opvolgbesoek aan die onkoloog noem hy dat daar nog 'n ander opsie op die tafel is. Hy het intussen met 'n professor in Kaapstad kontak gemaak wat 'n leier op die gebied van lewer-operasies is en nadat hy my mediese geskiedenis vir hom gestuur het, het die professor laat weet dat hy kans sien om die kwaadaardige gewasse te ver-wyder. Nodeloos om te sê, ek was van vooraf verward. Chemo-terapie was duidelik nie meer 'n opsie nie. Moet ek myself weer deur 'n groot operasie sit net om 'n bietjie tyd te wen? Toe ons die spreekkamer verlaat, sê ek vir my man dat ek 'n intense behoefte daaraan het om vir 'n paar dae af te sonder en net tyd met die Woord te spandeer en met God te gesels. Dit was die wonderlikste twee dae van my lewe! Terug by die huis het ek my onkoloog laat weet dat ek vir die operasie wil gaan. Intussen, terwyl al die reëlings vir die operasie getref word, vier ek die lewe en my 55ste verjaardag met 'n 'high tea' en op 27 Augustus 2015 ('n jaar na die eerste operasie) word ek in die teater gestoot vir 'n operasie wat 5½ uur duur. My dierbare man het intussen verskeie gebedsgroepe gestig en ek is op 'n wolk van gebede gedra. Op die dag van my ontslag uit die hospitaal, verskyn die professor skielik in die deur en kom sit op die bed. Hy kyk my lank in die oë voordat hy begin praat. "Ek het sopas die patoloë se verslag gekry... so 'n verwikkeling het ek nog baie selde ervaar of van gehoor - die tumors was nie kwaadaardig nie! Die patoloë het dubbel seker gemaak." Ek kon nie 'n woord uitkry nie! Trane van dankbaarheid en verwondering het begin loop. Na 2 ingrypende operasies en 18 onsuksesvolle chemo-behan-delings het my wonderwerk gebeur! Ek is so dankbaar dat God verstaan wanneer ons vrae vra en na Hom roep vir uitkoms - Hy het immers self die sterk drang na oorlewing in ons DNA ingeweef! Ek is so dankbaar vir die lands-wye gebede wat my gedra het. In Refilwe, buite Pretoria, het 'n klein, nederige gemeente en hulle pastoor ook vir my gevas en gebid terwyl hulle my nie eens geken het nie! Selfs so ver as in Engeland en Australië is daar vir my gebid. Ek is so dankbaar dat ek tydens my reis kon ervaar dat God in beheer is, al gebeur wat ook al! Moenie moed verloor as jy 'n krisis beleef nie. Dis wanneer God Sy heerlikheid en almag openbaar! "Elke dag hou die moontlikheid van 'n wonderwerk in!" Constance is beskikbaar om haar getuienis in Afrikaans of Engels by Vrouebyeenkomste te deel. Kontak haar gerus! Constance van der Merwe Sel: 083 451 3112 Constance van der Merwe. |
![]() |