DIE CHRISTEN MOET BAIE NABY AAN JESUS LEEF! | |
  |
Dit is nie altyd maklik om 'n Christen te wees nie, veral as dit nie gangbaar is tussen die mense waar jy werk of bly nie. Christene leef anders omdat God hulle anders gemaak het. Sekere dinge is vir hulle baie belangrik omdat God dit vir hulle belangrik gemaak het. Daarom moet hulle soms 'nee' sê as ander mense graag 'ja' wil hoor. En die wêreld vergewe nie graag nie. Christene kan maklik eenkant toe geskuif word en selfs seerkry omdat hulle Christene is. Dit kos baie om 'n Christen te wees in die wêreld; dit wil Petrus onder-streep. Maar God vergeet ons nie een oomblik nie. Hy is altyd by ons. Jesus het daarvoor gesorg dat ons veilig in God se hand is, al probeer die wêreld hoe hard om ons seer te maak. 1 Petrus is 'n brief van bemoe-diging. As Petrus sy gemeente-lede begin moed inpraat, begin hy op die regte plek. Hy vra of ons regtig nog onthou wie ons is. As 'n Christen begin twyfel, besef hy of sy nog dat hulle spesiaal deur God gekies is om Syne te wees? Besef hulle dat God vir hulle 'n beson-dere werk in die wêreld gegee het, naamlik om Hom tussen ander mense te dien? Hulle moet hulle ook nie te veel aan hierdie wêreld en alles wat hier gebeur, steur nie. Die wêreld is nie die Christen se permanente blyplek nie. Hulle is op pad na God toe. Dáár is hulle tuiste. Daarom moet die Chris-tene nie in hierdie wêreld en sy belange vasgroei nie. Dit beteken nie dat Christene in die wêreld moet leef asof hulle niks daarmee te doen wil hê nie. Dit bly nog die plek waar hulle nou leef. Die Christen moet egter só leef dat God trots is op hom of haar. Of dit nou met die Christene goed gaan in die wêreld, of sleg, daar moet net een boodskap uit hulle lewe straal en dit is 'n boodskap wat van God vertel. Daarom moet die Christene enige lyding met 'n kop omhoog kan verdra omdat hy of sy 'n Christen is. -- ooo OOO ooo -- "Julle moet mooi luister: die oorspronklike boodskap wat julle gehoor het, moet 'n groot invloed op julle uitoefen. As daardie bood-skap julle lewe rigting gee, is dit eintlik die Seun en die Vader wat julle beheers en rig. Wat hou hierdie boodskap dan nou in? Dit: Jesus het julle 'n nuwe lewe saam met God kom aanbied. Ek het hierdie dinge geskryf oor mense wat julle om die bos wil lei. Wat julle betref: julle het iets van Jesus gekry wat julle lewe totaal verander - Sy Gees het by julle kom bly. So het Hy julle in Sy spesiale span vir hierdie wêreld gesit. Hy wil hê julle moet spesiale dinge vir Hom doen. Niemand moet julle dus allerhande dinge kom wysmaak of probeer leer nie! Die Gees is julle Onderwyser en Gids in alles wat waar is. Julle kan Hom maar glo, want Hy lieg nie. Steur julle daarom aan niks en niemand anders nie, behalwe aan die Gees en wat Hy vir julle geleer het! My liewe kinders, konsentreer nou daarop om baie naby Jesus te bly leef. Julle vra waarom? Wanneer Jesus weer sigbaar terugkom, sal julle dan nie so skaam hoef te voel dat julle wil weghardloop nie. Nie kop onderstebo nie, maar met oop arms sal julle Hom dan kan verwelkom. Julle weet mos dat Jesus se verhouding met God in elke opsig foutloos is. In alles wat Hy doen, tree Hy reg op. Dit is vir julle die toets: elkeen wat so volgens God se wil reg optree, is 'n ware kind van God (1 Johannes 2:24-29). [DIE BOODSKAP, CUM, 1996]. |