TROTSEER DIE LEWE SÁÁM MET CHRISTUS | |
  |
Vir sommige kerkmense is hulle geloof iets wat hulle die hele tyd 'n paar senti-meter bokant moederaarde laat sweef. Hulle vertel graag vir ander hoe hulle geloof hulle verander het in "senior" Christene wat van die een geestelike oorwinning na die ander voortmarsjeer. Natuurlik is dit goed en reg dat gelowiges met ander mense kan (en moet) praat oor alles wat hulle in die Naam van die Here doen. Maar die Evangelie het ook 'n tweede vers wat deesdae maar min in die Kerk gehoor word. Die Bybel vertel gereeld vir ons van die ander kant, van die skerp kant van geloof. Ons lees dikwels van gelowiges wat bitter hard moes worstel om kop bo water te hou. Die Bybel praat ook oor 'n paar Godsmanne en -vroue wat die sin van die lewe gemis het en toe weer van voor af God se hart moes gaan ontdek, en van gelowiges wat partykeer stroomop moes glo. Geloof in die drie-enige God kom nie aldag maklik nie. Dit bestaan nie maar net uit 'n paar maklike stappe wat jy moet volg op die kortpad na ware geluk nie. Nee, geloof is dikwels 'n opdraande stryd. Dit verg baie moed om in Christus te glo in 'n wêreld wat nie elke dag meer sin maak nie, veral wanneer die lewe jou 'n slag hard bygekom het. Wanneer jy voor 'n oop graf moet staan; wanneer jy jou werk of jou gesondheid verloor het; wanneer jy die slag-offer van die hoeveelste rooftog was, voel dit asof God rugkant eerste na jou toe staan. In sulke tye moet jy die hart van die Evangelie goed ken om by al die kitsoplossings verby te stap wat gewoonlik soos 'n wortel voor jou neus gehou word. Ware geloof vra natuurlik ook dat jy God nou en dan trompop moet kan nader en eerlik met Hom kan praat totdat die wolke voor jou eie stukkie son uiteindelik begin wegskuif. Ander kere vra dit weer dat jy teen die stroom sal bly glo, selfs teen die grootste teenstand in. Maar ware geloof bring ook 'n bereidheid om die wêreld vierkantig in die oë te kyk. Dit laat jou nooit jou verhouding met die Here as 'n ontsnaproete misbruik nie, maar help jou juis om die lewe met al sy onsekerhede en pyn voluit sáám met Christus te gaan beleef! [Dit kos guts om te bly glo deur Stephan Joubert, Lux Verbi.BM, 2003]. |