GOD VAN WONDERWERKE! | |
![]() |
|
  |
Ek bevind my in 'n wagtydperk... Die opehartoperasie wat ek moet ondergaan, kos R250 000 maar het veel meer risiko's en ongerief as wat ons besef het, en ek neem veel langer om te herstel. Omdat my hart beskadig en verswak was, durf die kardioloog nie die risiko neem nie. Sonder 'n operasie is my lewensverwagting uiters 'n jaar omdat ek meer skade as normaal het. Die ergste is dat hartversaking gaan toeneem totdat dit my dood gaan kos. Natuurlik kan God my sonder operasie genees en daarvoor vertrou ek Hom volkome. Ek spreek elke dag genesing uit met die nodige Bybeltekste, veral "deur Sy wonde is ek genees ". Solank my toestand nie verbeter nie, gaan ek aanhou om Hom te vertrou al moet ek deur die tweede beste opsie gaan van 'n stent met 'n nuwe hartklep. Ek is presies daar waar Dawid was in Ps.131:2 - "Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie, DINGE WAT BO MY VERMOË IS. Ek het rus en kalmte gevind soos 'n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind. " My Vader hou my rustig en ek leer weer eens om Hom onvoorwaardelik te vertrou. Eers moes ek toe wag vir kardioloog Badenhorst wat my na kardioloog Vorster verwys. Daarna wag ek vir dokter Vorster wat maande vooruit volbespreek is, maar kry Goddank 'n kansellasie-afspraak vir 21 Augustus 2018 by Unitas Harthospitaal. Intussen het my dogter, Annelize, op internet meer uitgevind omtrent dokter Vorster en 'n interessante onderhoud gesien wat hy oor die TV gevoer het en waar hy 'n kort verduideliking en illustrasie van die taamlik nuwe proses gegee het. Dis 'n nuwe hartklep in 'n stent wat deur die lies in die aorta opgestuur word en dan die beskadigde klep uitdruk deur 'n ballonnetjie op te blaas oor die ou klep om dit dan met 'n nuwe klep te vervang. Dit klink na 'n wonderlike oplossing om opehartklep-operasies te vervang met heelwat minder risiko's, maar dit kos 'n allemintige R360 000. Die prys het al heelwat afgekom, maar bly steeds enorm hoog. Die meeste Siekefondse wil dit nie betaal nie; dus sit ons hier met 'n probleem. Ek het deur 'n absolute wonderwerk by 'n Siekefonds, Fedhealth, aangesluit sonder wagtydperk of terugbetaling en hulle sou die hospitaalkoste en R55 000 van die stent betaal. Die kardioloog en Mediese Skema probeer die beste plan uitwerk. Die res moet ek egter self betaal. Die dokter sê Siekefondse sloer maar om tot 'n slotsom te kom en intussen word my suurstof al minder, omdat die klep steeds meer toekalk. Die eerste sonar het 23% gewys. 'n Week later in Pretoria 22% en nog 2 weke later is dit net 19% suurstof en bloed wat deur die hartklep gaan. Daarom moet ek my uiters stil gedra; nogal baie moeilik vir iemand wat altyd so aktief by alles betrokke was en baie hard kon werk. Gelukkig maak die medikasie vir my veluitslag my lomerig en slaap en rus ek tog te heerlik. Presies op die regte tyd voorsien my Hemelse Vader 'n datum vir die TAVI en kon ek net oorstap van die een hospitaal na die volgende een in Pretoria. Dinsdag die 25ste is ek ingeboek by Unitas, die Harthospitaal in Centurion, vir toetse en die volgende dag het die TAVI-operasie plaasgevind. 'n Span dokters van 10 moes die operasie assisteer, waarvan een 'n kardioloog van Kaapstad was. Hy, asook nog 'n vrou wat die klep op die stent moes monteer, moes spesiaal vir die operasie van die Kaap af vlieg. Die klepvervanging was 'n groot sukses, maar daar was heelwat komplikasies. Die plek in die aorta waardeur hulle gewerk het van die lies af, was verkalk en toe kon hulle nie steke insit nie. Hulle moes toe 10cm van die aorta uitsny en op 'n ander manier heg. Terwyl hulle daarmee besig was, ontdek hulle nog 'n vernouing hoër op in die aar en toe het hulle nog 'n stent daarvoor ook ingesit. Die aanvanklike 3-uur-operasie het toe 6 ure geword. Wat een dag in die Hoësorgeenheid moes wees, het toe 7 dae geword. My lyf, bene en arms het begin swel na die operasie as gevolg van hartversaking en my regterbobeen van die knie tot in die lies was morsdood en dik geswel. Maar Goddank, elke dag was daar 'n bietjie vooruitgang! Glad nie lekker om met soveel drade en buise aan jou bed vasgekoppel te wees nie! Daar was 'n tros van 5 buisies in my nek en nog 'n tros elk in my arm, hand en lies. Die nuwe klep het onmiddellik sterk begin werk en my asemnood was weg - prys die Here! Ondertussen het ek op 30 Augustus van die Siekefonds gehoor, maar glad nie wat ek verwag het nie. Hulle het die hele hartprosedure afgekeur, maar ek weier om my te ontstel. My Pa is nog steeds die Koning van die Heelal en ek vertoef steeds in Ps.131 en ondervind Sy vrede! Ek hou vas aan Sy belofte dat ek sal leef en God sal verheerlik. Al wat oorbly, is om Hom te vertrou vir 'n wonderwerk - fisies en finansieel. Ek glo dat Hy dit kan doen. Intussen het daar soveel gebeur. Kardioloog Vorster het met my Mediese Skema se dokter gepraat en gevra om my saak te heroorweeg. Na 2 weke ontvang ek die wonderlike nuus dat hulle ingestem het om ook vir my TAVI-operasie te betaal, behalwe vir 'n bybetaling van R44 135 op die klep wat R218 500 kos. Die fonds betaal R174 365 daarvan! Dit was fantastiese nuus, nadat hulle die TAVI tevore afgekeur het! Die operasie is verby en ek sterk goed aan en net soos die Lente nuwe lewe voorspel, so is ék Goddank ook op pad na 'n nuwe lewe! - Gretha Le Roux 018 290 1802 of 082 607 7198. |