SIT NOG HOUT OP DIE VUUR!
 
Paulus was 'n skipbreukeling op die eiland Melíte (Handelinge 28:1-10). Dit was 'n afgesonderde gebied. Kom ons kyk na die scenario: Dit was in die dae toe daar nog nie 'n posdiens was nie. Mense het gebruik gemaak van posdraers wat uitgestuur is, dikwels vir kilometers, om 'n brief af te lewer - soos Paulus ook sy sendbriewe uitgestuur het. Daar was ook nog nie moderne maniere van kommunikasie nie. Daar was nie telefone nie. Daar was nie televisie nie. Daar was nog nie selfone, e-posse, SMS'e, WhatsApp's, of enige moderne kommunikasiemiddels nie. Daar was net Jesus se Groot Opdrag aan Sy dissipels: "Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom." (Mark. 16:15). Maar hoe? Gebruik die middele tot julle beskikking! Loop met die voet, reis met 'n esel, perd, wa of selfs skip om oorsee te kom!

Ons neem kennis van Paulus wat op 'n skip was op pad na Rome. Die skip vergaan egter! Maar 'n engel van God verskyn aan hom in die nag en sê: "Moenie vrees nie, Paulus; jy moet voor die keiser staan, en kyk, God het aan jou geskenk almal wat saam met jou vaar. Daarom, hou moed, manne; want ek glo God dat dit so sal wees soos aan my gesê is" (Hand.27:24-25). In hierdie angstige en beklemmende omstandighede, verkondig hy eers die Evangelie aan die bemanningslede in hulle nood, en bring so redding vir hulle. Daarna spoel hulle op die eiland uit, en ook die eilandbewonders moet die Woord van God hoor en aanneem om gered te word (Lees gerus die hele verhaal van hulle ontberinge met die skipbreuk in Handelinge 27). God maak egter alles Sy dienskneg. Hy gebruik selfs óns negatiewe omstandighede om Sy positiewe doel te bereik. Hy maak ons minus Sy plus!

Kyk net wat gebeur verder: Die eilandbewoners het aan hulle "buitengewone mensliewendheid bewys." Hulle het 'n groot vuur gemaak om hulle warm te hou "weens die reën en die koue." Die vuur moes aan die brand gehou word, en Paulus lewer ook sı bydrae. Hy maak 'n klomp droë hout bymekaar om nog hout op die vuur te sit, maar 'n adder kruip uit die hout vanweë die hitte van die vuur en byt hom aan die hand!

Die eilandbewoners is verstom, want hulle wéét wat dit kan meebring. Hulle kén die gif van 'n adder! Hulle verwag dat Paulus skielik gaan opswel en dood neerval. Maar Paulus was besig om God se plan uit te voer en hy skud die adder in die vuur af en kom niks oor nie. 'n Wonderwerk van God! Want Jesus het met Sy Groot Opdrag waar Sy volgelinge uitgaan om Sy Koninkryk se boodskap te verkondig, verklaar: "En vir die wat geglo het, sal hierdie tekens volg: in My Naam sal hulle duiwels uitdryf, met nuwe tale sal hulle spreek, slange sal hulle opneem; en as hulle iets dodeliks drink, sal dit hulle geen kwaad doen nie; op siekes sal hulle die hande lê, en hulle sal gesond word" (Mark. 16:17-18). Die orde van die opdrag is: Jy moet éérs self glo; dan gaan jy uit en vertel aan ander die goeie nuus van Jesus se verlossing!

Daarna word hulle genooi om na die hoof van die eiland, Públius, te gaan waar hy hulle (Paulus en die 276 skipbreukelinge) vriendelik herberg vir drie dae lank gee. Nou wag daar nóg 'n taak op Paulus. Públius se pa was siek met "koors en buikloop." Hy kon dalk gesterf het, want daar was nie 'n dokter in die omgewing, soos ons dit vandag ken nie. En Paulus het ingegaan na hom toe en vir hom gebid en hom die hande opgelê en hy was gesond! Nog 'n wonderwerk van God! (Hand. 19:11-12; Jak. 5:14-15). "En hierna het ook die ander wat siektes gehad het op die eiland, na hom gekom en is genees. En hulle het ons ook baie eerbewyse betoon, en toe ons sou afvaar, ons van die nodige voorsien" (Hand. 28:9-10). "Mission accomplished!" Daarna is hulle weer op weg na Rome, want Paulus moes ook dáár die Evangelie verkondig!

Wil jy jou ook tot beskikking van God stel? Sit nog hout op die vuur! God se vuur moet helder brand, sodat ander hulle ook in die lig en hitte daarvan kan verbly! Jou lamp moet op die staander geplaas word, sodat almal die LIG kan sien (Luk. 8:16). Jou lig moet helder skyn vir Jesus!

© Dr. J J Venter


Indeks     Index